KAAPSTAD
KAAPSTAD gestig 1665
bydrae deur Johan Erasmus
Van Staden tekening 1710, Fort is aan die linker kant.
Die Kerk met toring kan gesien word.
Regs van die Kerk is die Poort wat lei tot die Hospitaal.
Van Staden tekening 1710, kerk met toring.
Voor die kerk is die Slawe Logie.
Links van die Kerk is die Hospitaal.
In die voorgrond is die Tuin.
Dit word algemeen aanvaar dat die eerste gemeente aan die Kaap met die volksplanting in 1652 tot stand gekom het. In die begin moes die koloniste met die dienste van 'n godsdiensonderwyser (sieketrooster) Willem Wylant tevrede wees (daar is 'n artikel oor hom onder Beroepe). Behalwe dat hy gereelde godsdiensoefeninge in die Fort waargeneem het, was hy ook verantwoordelik om die kinders te onderrig en die evangelie aan die inboorlinge te verkondig. Die eerste nagmaalsbediening aan die Kaap word op 12 Mei 1652 deur 'n besoekende leraar, ds. Johannes Backerus, waargeneem. Die doop word op 24 Augustus 1653 vir die eerste keer aan die Kaap bedien. Ander sieketroosters wat tot en met die aankoms van die eerste leraar in die Kaap gearbei het, was Pieter van der Staal, Ernestus Back en Jan Joris Greef. Uiteindelik, nadat die volksplanting goed op dreef gekom het, besluit die Here Sewentien in Amsterdam om die eerste leraar in die Kaap aan te stel.
Op 18 Augustus 1665 land ds. Johannes van Arckel in Tafelbaai. Daar word ook in die kerkboeke melding gemaak van ouderling Abraham Schut en diaken Johannes de Wiener. Hulle magte was egter baie beperk en alle besluite was aan die goed- of afkeuring van 'n sogenaamde kommissaris-politiek onderhewig. In ds. Van Arkel se dienstermyn het dit ook nodig geword om 'n houtgebou as kerk te gebruik. In Desember 1665 is die gebou van 'n steengewel en 'n vloer voorsien. Later, in 1672, is die eredienste in die "Kat" - raadsaal van die Kasteel - gehou. Die fondament vir 'n kerkgebou word in 1687 gelê.
Tekening van die Kerk.
Die Kerktoring
verskans tussen
die geboue vandag.
Die eerste volwaardige kerkgebou, waarvan die boukoste terloops 'n som van £2200 gekos het, is eers in ds. Petrus Kalden se dienstyd, op 6 Januarie 1704, ingewy. Sedert die begin jare van die kerk aan die Kaap is die gemeente deur leraars soos ds. Petrus van der Spuy (eerste gebore Afrikaner wat predikant geword het) 1746 - 1752, ds. J. P. Serrurier, 1760-1802 bedien. Gedurende laasgenoemde se dienstyd, in 1704, is besluit om die kerk te vergroot. Dit word teen 'n bedrag van £4000 gedoen en in 1781 ingewy. Die teenswoordige pragstuk van 'n preekstoel word teen 'n bedrag van £708 deur die ervare beeldhouer Antonie Anreith uit die beste Indiese hout geskep en in November 1789 ingewy. Later moes hierdie kergebou egter afgebreek word en is die nuwe gebou, die Grootte Kerk, in 1841 plegtig ingewy. Al wat van die gebou van 1704 behoue gebly het, is die huidige toring.
Na ds. Serrurier is die bediening van die gemeente behartig deur ds. C Fleck (1781 - 1822) en sy kollega ds. Von Manger. Van die bekendste predikante van die gemeente wat 'n baie groot invloed op die kerklike lewe aan die Kaap uitgeoefen het, was ds. Helperus Rizema van Lier (1786 -1793) en dr. Abraham Faure (1822 - 1867).
Ds A Dreyer, Eeuwfeest-Album van der Nederduits-Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika 1824-1924, verskyn daar 'n prent van die Kerk in 1704.
- Hits: 14302