Slawerny in Angola
In alle vorige beskrywings oor grootwildjag in Angola het ek geen nadruk gelê op die feit dat daar tot in die huidige eeu 'n wrede, onmenslike slawerny in Angola geheers het nie, hoewel dit uit die verhale van die ou jagters self baie duidelik geblyk het dat ook die Boere daar tot kort voor die Eerste Wêreldoorlog nog slawe besit het.
Reeds lankal het ek ook vermoed dat die sogenaamde "mak-" of "grootmaakvolk" van die ou Dorslandtrekkers in werklikheid slawe was wat hulle onwettig in Transvaal verkry en behou het. In sy boek The Native Policy of the Voortrek-kers het J.A.I. Agar-Hamilton die inboekstelsel van die ou Transvalers bespreek en ook daarop gewys dat vooraanstaande burgers van die land hulle nie juis veel gesteur het aan die grondwettelike bepaling dat daar in die Suid-Afrikaanse Repu-bliek geen slawerny sou wees nie. Sedert hierdie vermoede nou by my ontstaan het, het ek die moeite gedoen om vas te stel presies hoeveel mak- of grootmaakvolk saam met die Dorsland-trekkers gegaan het en wie hulle was. Ek glo dat ek die naamlys nou voltooi het; maar persoonlik wil ek nie beweer dat al daardie grootmaakvolk slawe was nie. Party van hulle mag wettig tot hul 21e jaar ingeboek gewees het; maar voordat met enige sekerheid gesê sal kan word wie en hoeveel hulle was, sal daar nog eers heelwat gesnuffel moet word in die ou dokumente van die landdros van Rustenburg. Hierdie onder-soek sal dan ook aan die lig bring of soveel as een van die ou Dorslandtrekkers se grootmaakvolk ooit volgens wet inge-boek was. Oom Willem Opperman se getuienis op hierdie punt word dus voorlopig geplaas vir wat dit werd mag wees, want Willem Grobler gee weer 'n ander uitleg van die saak. Nadat hy (Grobler) die name van 19 grootmaakvolk genoem het, verklaar hy:
"Hierdie ou makvolk het, toe Humpata-dorp aangelê is, vir hulle 'n klein lokasietjie gemaak aan die noordoostekant van die dorp onder die berge. Hulle het almal darem ook 'n bietjie vee besit, want baie van hulle het verdien as wadrywers ... Hulle het 'n bietjie gesaai, en party van die ou mansvolk het ook verdien deur as wollentiers op ekspedisies te dien. Toe hulle nou 'n bietjie welvarend word, kon hulle nie almal daar onder die berge naby Humpata-dorp gebly het nie en toe is hulle uitmekaar, en baie van hulle het toe op hul eie gaan boer.
"Toe ons ons in 1881 in Angola gaan vestig het, het die Portugese met klompe slafies van Caconda se wêreld af na Humpata gekom om hulle aan die Boere te verkoop. Baie van die Boere het ook gekoop. My vader het self twee volkies gekoop: die een se naam was Welkom en die ander s'n Dienaar. Later het Vader nog een klonkie gekoop en hom die naam Stuurman gegee.
"Kort na my troue in 1888 het ek van 'n Portugees, Alwyn Vidigal, 'n meid gekoop om my vrou as huismeid te dien. Haar naam was Tabita. Later het ek weer 'n Boesmanmeid gekoop en haar Viktoor genoem. Toe hierdie twee meide omtrent mondig geword het, het ek hulle altwee vrygemaak. Hulle was nog in my diens toe hulle getroud is, maar ek het hulle later met hul mans laat gaan. Daarna het ek 'n Boes-man-klonkie gekoop van 'n Portugees, ene Dimingo van Caconda, maar hy het weggeloop net toe hy sy mondige jare bereik het. Hy was 'n eersteklas skepsel, en die Portugese het hom van my afgekonkel. Toe het ek weer twee klonkies gedurende 'n hongersnood van hul eie ouers geruil - die een vir 'n paar jaarts goed en die ander vir 'n vers.
"Die handel in slawe was dwarsdeur Angola in gebruik, by die Portugese sowel as by die inboorlinge self. Die naturelle ver in die binneland, soos aan die Zambesi, die Okavango en daarlangs, het self ook slawe verkoop. Hulle het met mekaar 'n ruilhandel gedryf. As daar nou van Midde-Angola se volk na daardie geweste gaan om te handel, het bulle teruggekom met gommestik, levoor en klonkies en meidjies. Hierdie kinders het hulle dan aan die Portugese kom verkoop, en dié het hulle weer aan ander mense verkoop. Daar was bv. in Caconda geen enkele wilde Boesman nie, en tog kon jy daar Boesmanslawe koop. Ek het later uitgevind dat die inboorlinge wat langs die Okavango gewoon het, sodra hulle verneem dat daar Boesmans in hul nabyte is, snags uitvalle gemaak en die Boesmans gevang en as slawe verkoop het. Verder het baie naturellekapteins die weeskinders van hul stam as slawe verkoop aan die Portugese of aan die Boere.
"Daar was aan die begin geen sprake van vrylating of registrasie van slawe nie. Jy het eenvoudig jou slaaf gekoop en hom gehou, sonder dat daar enige amptelike aantekening van die transaksie gemaak is. Toe ons die land ingetrek het, het die Portugese eienaars van die groot fazendas- of suiker-kan (Sugar cane - suikkerriet.) plantasies by Capangombe, Bibala, Manino en onder by Vitael en ander plekke groot klompe slawe gehad. As die Portugese beweer dat hulle ná 1900 'n wet gemaak het dat die slawe vrygestel moes word, kan ek net sê dat ek reeds vóór daardie tyd van my groot slawe vrygestel het en weer nog lank na daardie tyd slawe geruil het, en dat baie ander mense dieselfde ding gedoen het, Portugese inkluis. Stadigaan het die slawehandel minder en minder geword, en teen die tyd dat ons Angola verlaat het, het jy maar min slawe gesien of van slawe-handel gehoor.
"Party van die volk wat vroeër slawe was, het uit hul eie saam met hul base na Suidwes-Afrika gekom, soos bv. die jong van Sias Swarts, om maar een te noem. Toe Niklaas Grobler uit Angola deur Damaraland terug is na Transvaal, het ek by hom 'n slaaf gekoop met die naam Aron vir omtrent £10 (45,000 R.). Aron was toe 'n skepseltjie van omtrent twaalf jaar, maar hy was al oorlams. Hy is toe later met die slavin Tabita, wat ek van Vidigal gekoop het, getroud. Toe het ek hulle gesê dat aangesien hulle al die jare so getrou was, ek hulle nou vry sou maak. Ek het toe vir Aron twee koeie gegee. Nadat ek hulle vrygemaak het, het hulle nog 'n ruk by my gebly, maar toe gaan Aron saam met mense na die oostelike deel van die land en daar is hy dood. Net voordat ek in 1928 na Suidwes-Afrika gekom het, het ek nog by Tabita en haar kinders op Grootslee naby Caconda gaan mielies ruil. Hulle was toe selfstandige volk en het op hul eie geboer; ek het nog my ploeg aan hulle verruil."
Selfs indien dit nou uit verdere ondersoek mag blyk dat die meeste of al die ou Dorslandtrekkers se grootmaakvolk nooit in Transvaal ingeboek was nie, d.w.s, dat hulle dus in werklikheid slawe was totdat hul base gesê het hulle is mondig, dan is dit uit die voorgaande duidelik dat die Boer 'n baie liberale slawebeleid toegepas het. Nou kan daar beweer word dat die ou Transvalers hul grootmaakvolk so menslik behandel het omdat hulle die naturellekinders op onwettige manier in hande gekry of aangebou het; maar dan het hulle die skoonste geleentheid gehad om in Angola, waar slawerny nog 'n erkende instelling was, hul slawe net soos die groot Portugese slawe--eienaars te behandel, en dit het hulle beslis nie gedoen nie. Hier volg nou die getuienis van Willem Opperman, wat die leser in staat sal stel om vir homself te oordeel:
II.
"Toe ons (d.w.s. die trek van 1892) by Dongo se fort kom, het ons gesien hoe dat 'n Portugese chef 'n Bantoe-kaptein straf. Die ding het só gekom. Daar was destyds geen waens of karre vir die transport van die kus af na die forte in die binneland nie. Die Humpata-Boere was ver daarvandaan en kon in elk geval nie die hele land bedien nie. Toe het die Portugese caracadores of dra-volk gehuur om die goed op Benguella te gaan haal en dan na die binneland te dra. Hulle het dan gewoonlik na die naaste kaptein gegaan en hom 'n sekere getal volk gevra om na die Baai af te stuur. Kort voor-dat ons trek op Dongo aangekom het, het die Portugese chef die kaptein aldaar om caracadores gevra, maar die kaptein het geweier.
"Toe die kaptein nou hoor dat daar 'n Boeretrek aan die kom is na Dongo, het hy dadelik vermoed dat die Portugese chef die Boere se hulp sou inroep om hom te skiet. Ons het die namiddag laat op Dongo aangekom, en die Portugese het ons ook dadelik, nog voordat die son onder was, gevra om die volgende dag die naturelle te gaan skiet. Maar daardie selfde nag kom die kaptein toe na die fort om te sê dat sy mense weg was, maar nou weer teruggekom het en dat hulle gereed was om na Benguella te gaan.
"Die Portugese chef was egter baie kwaad en ook so groot-man omdat daar mos nou soveel Boere om hom was, dat hy sommer die kaptein gevang en hom in die tronk gestop het. Die volgende dag was ek ooggetuie van wat met die arme skepsel gebeur het. Hulle het hom deur 'n kanonwiel oopge-spalk, met die arms en voete aan die ander wiel vas. Toe het hulle hom met 'n tweepuntige seekoei-sambok geslaan. Toe ek daar kom, het die naturel reeds soveel slae weggehad dat stukke bloed en vleis op die grond gelê het. Die jong het baie geskreeu en gekerm van pyn. Hoeveel houe hy toe al weg had, kan ek nie sê nie; maar ek het self honderd-ses-en-negentig houe met die tweeling-sambok getel vandat ek daar aangekom het totdat hulle opgebou het!
"Die man wat die slae uitgedeel het, was 'n groot, vier-kantige naturelle-tolk. Hy het ongenadig geslaan, maar kort--kort kom die chef by en skreeu op hom:'forsa!' - d.w.s. met krag! En dan slaan die tolk nog harder. Jy moet bedink dat die jong twee maal 196 houe gekry het solank as wat ek daar gestaan het, want die sambok slaan twee houe elke slag. Toe hulle hom eindelik losgemaak het, het hulle hom tot in die tronk geslaan. Daardie houe het ek nie getel nie. En terwyl die jong nog vreeslik gekerm het in die tronk, het die chef se order geval: 'Maak soutwater aan en was hom!' Of die jong met sy lewe daarvan afgekom het, kan ek nie sê nie, want ons is die volgende dag weer weg.
"Willem Prinsloo het al tevore so iets gesien in Angola, maar vir ons ander wat dit vir die eerste maal gesien het, was dit 'n skok in die hart. Dit was afgryslik en dit was asof ons almal vervul was met walging. Later het ek nog meer voor-beelde gesien van die Portugese se strafmetodes, want só het hulle ook hulle slawe geslaan, ongenadiglik en onmenslik.
"So hou hulle dan aan totdat die naturel se hande soos poffertjies geswel is. Dan word die slagoffer op sy rug neer-gelê en word sy voetsole op dieselfde manier bewerk totdat hulle ook stukkend is. Dan word hy op die pens gedraai en die boude op dieselfde manier bewerk. Dit beteken dat so 'n naturel honderde houe weg het voordat hulle met hom klaar is.
"Sulke straf het hulle vir die nietigste oortredinkies toegepas. Die jong was miskien ongehoorsaam, hy het 'n bord of koppie gebreek of 'n mes verloor of gesteel. Buitendien moet die jong dan nog so 'n ding dubbeld betaal of weer een gaan koop, en hy kry die slae nog boonop! Dit was nie net die chefs wat hierdie strafregte gehad het nie; enige Portugees, solank hy net die baas van 'n naturel was, het hierdie reg gehad en dit ook deeglik toegepas.
"Ek het later ook gesien hoedat Portugese boere op die plase, vernaamlik by Porto Alexandre, die volk mishandel het wat in hul diens was. Daar is nl. baie sandvlooie, en as die goed die volk se voete aantas, gee die Portugese base die stomme goed nooit kans om die vlooie uit te haal nie. Soggens as dit lig word, lui die klok vir die werk, en die volk kry geen tyd om die fyn vlooitjie uit te haal nie. Gedurende die dag is daar ook geen kans vir die skepsels om die vlooie uit te haal nie, want hulle werk in spanne, en aan die een kant staan 'n opsigter met 'n roede en aan die ander kant staan nog een, en hulle dryf die volk gedurig aan uit vrees vir hul baas, want as daar 'n naturel in sy werk versuim, dan word die opsigters gestraf as die baas dit sien. Die werkers kry ook net tyd om in die middae hul kos te eet, wat deur 'n kok vir hulle berei is. Dan moet hulle weer dadelik inval.
"Die werk was meestal om slote te pik met hul kafferpikke vir die plant van suikerkan, patattas of mandioka. Eers as dit donker is en hulle dus nie meer kan sien om die vlooie uit te haal nie, hou die werk op. By vuurlig kan die vlooie nie gesien en dus ook nie uitgehaal word nie. Die vlooie lê hul eiers onder die toonnaels en onder die voetsole, en sodra die eiers uitbroei, begin die klein vlooitjies dadelik weer inkruip in die voet. As so 'n werker nou nie meer kan loop nie, dan moet hy maar lê.
"Ek het gevalle gesien waar die voete geswel was tot by die knie. Die voet is dan so groot dat as jy die spoor sien, kan jy nie begryp wat se spoor dit is nie. Ek het al vir daardie Portugese boere gevra waarom hulle die volk nie 'n kans gee om hul voete skoon te maak nie en ek het elke slag dieselfde antwoord gekry: 'As jy hom 'n kans gee om sy voete skoon te maak, dan loop hy weg!' Dit was almal gekoopte slawe wat hulle so behandel het.
III.
"Wat slawerny in Angola betref, kan ek minstens getuig wat die toestand was toe ons in 1892 op Humpata aangekom het. Toe ons daar kom, het elke Boer op Humpata sy slaaf of slawe gehad, nie een enkele een uitgesluit nie. Ons het hulle 'grootmaakvolk' genoem, want jy ruil of koop hom as hy klein is en jy maak hom vir jou groot.
"Die Boere se slawe het, as daar net een was, in die komhuis geslaap, en as daar meer was, dan was daar gewoonlik 'n buitehuisie vir hulle. Sover ek weet, het geen enkele Boer sy slawe snags onder slot en sleutel gebou nie. Hulle was los en vry om selfs saans by ander te gaan kuier (Geen wonder dus dat ds. Jan Lion-Cachet kon geskrywe het nie:- Slaven zag ik bij de boeren niet." (De Trekboeren te St. Januario Humpata, p. 142). Ek het drie slawe van my eie gehad: 'n klein Boesman, Bambie, 'n klein naturel, Asvaal, en 'n meidjie wat Andries Alberts en Willem Venter vir my vrou present gegee het ná die ekspedisie teen Hangalo. Op 'n jag het ek nog twee klein Boesmantjies van 'n Bantoekaptein vir 'n ou geweer verruil. Hy het die Boes-mantjies in die veld laat vang en hulle dan verruil. Slawe was dan ook die handelsgoed van die swartkapteins en die Portugese.
"Kort ná ons aankoms in Angola het ek daar onder die gebergte naby Humpata op 'n plek Calengs - dit was die naam van die kaptein se stat - honderde slawe en slavinne gesien werk. Daar het 'n drank- en suikerfabriek gestaan, waar honderde halfame brandewyn gedurende die winter gestook is -waar is nog dié wat in die somer gestook is? Daardie drank is alles gemaak van suikerkan en patattas wat die slawe moes plant, nadat hulle die grond met pikke omgekap het.
"Dit was ontsaglike plantasies. As jy daardeur loop of ry, is jy doodmoeg as jy anderkant uitkom. Daardie slawe is deur die fabriekseienaars van die groothandelaars oral in Angola en van die kapteins gekoop of geruil. As jy nou wil weet of daar baie slawe in Angola was, dan kan ek jou daarop antwoord. Wat van die groot plantasies oral in die land soos by Manino, Capangombe, Nassarsao, Calengs, Vintiava, Benguella, Catambella en nog die menigte plantasies verder vorentoe wat die geelvet (palmolie) maak, suikerkan, patattas en koffie verbou? Daar was honderde sulke plantasies en net soveel honderde base, en op al daardie plantasies het honderde slawe en slavinne gewerk. Dit is nog behalwe die slawe van die ryk Portugese boere en handelaars. Nou kan jy besef hoeveel slawe daar in Angola moes gewees het.
"Die Portugese het slawehuise gehad waarin hul slawe moes slaap, en dié is snags onder slot en sleutel geplaas.
IV.
"Maar kom dat ek jou nou vertel hoedat die slawe ingevoer is van buite af na die baaie toe. Ek sê jou net wat ek gesien het en nie 'n ding waarvan ek gehoor het nie. Die handelaars in die baaie skryf na die buiteveld waar daar winkels is aan die kleinhandelaars, wat weer met die swart kapteins bekend is: 'Stuur vir my so en soveel caracadores.' Intussen het die een in die baai sy besigheid klaargemaak met 'n sekere een op die eiland Santa Meia (Hy bedoel San Thome).
"Wanneer die draers nou van die Boveld uit Bihè kom, dan kom hulle in Benguella aan en daar word hulle baie goed behandel. Hulle kry in 'n groot ringmuur goeie slaapplek, genoeg kos en altemit nog 'n anker brandewyn ook, daar die brandewyn maar heel goedkoop was. As die skip wat die slawe na die eiland moet vervoer nou dadelik daar is, gaan alles gou; maar as die skip miskien vertraag is en 'n paar dae later kom as wat hy verwag is, dan wis hulle so knap om die naturelle te troos: 'Die dragte is nog nie klaar nie, al die lappe is nog nie gepak nie. Wag maar nog 'n dag, daar is kos en drank genoeg vir julle.' En so is die naturelle weer gerus.
"Eindelik kom die skip dan aan, en as alles op die skip gereed is vir die vertrek, word 'n klompie soldate van die goewerment gevra en al die man se eie slawe word geneem en hulle gaan staan dan in twee rye voor die bek van die ring-muur waardeur die kastige draers nou moet marsjeer. Die 'draers' word nou aangesê om uit te kom, en sodra hulle by die hek uitkom, vind hulle dat hulle onder gewapende geleide na die skip aangeja word! Die stomme goed is dan so oorbluf en vol vrees dat hulle nooit eers probeer om te ontvlug nie. So word hulle dan tot op die skip geneem en van daar vervoer na Santa Meia.
"Ek het met my eie oë in Benguella so 'n skeepslading slawe gesien. Carl Ivens het my een aand na ete genooi om saam met hom na 'n nuwe skip te gaan kyk wat daar in die Baai voor anker gelê het. Ons is met 'n skuit soontoe en het die skip gaan bekyk. Toe ons nou omtrent alles wat besienswaardig was, gesien het, sê hy vir my: 'Kom ons gaan na die agter-stewe.' Die skip was helder verlig, en toe ons daar agter kom, moes ek sien daar sit 'n groot trop inboorlinge saamgehok - hulle was minstens 150 mans, vrouens en kinders. Ek vra vir Carl toe wat dit beduie, en hy antwoord: 'Man, dis 'n klomp slawe wat met bedrog uit Bihè hierheen gelok is om nou na Santa Meia weggestuur te word en daar in die plantasies te gaan werk.'
V.
"Ek het jou reeds vertel hoedat die slawe daar by Porto Alexandre se plantasies mishandel is en dat die Portugese hul slawe vir die geringste oortreding gestraf het. Nou moet ek jou nog net sê dat hul slawe net 'n paar jaarts lap gekry het om hulle in te klee. En so 'n slaaf het nie 'n nuwe kleed gekry voordat die oue se flenters van hom afgeval het nie. Dis geen wonder dat die Portugese se slawe moes toegesluit word nie, want die behandeling was so verskriklik dat hulle dit nie kon uithou nie en gedros het net sodra hulle die kans daartoe gekry het. In die winter het hulle ook nie komberse gekry nie. Ek het troppe van hulle gesien wat die lappe wat hulle gedra het ook as komberse moes gebruik.
"Daar was natuurlik ook Boere wat vreeslik straf op hul slawe was; party was sommer kortom wreed. Maar die groot meerderheid van ons mense het hul slawe met alle menslikheid behandel. Kos en klere het hulle genoeg gekry. Ons slawe was immers altyd goed gekleed in dieselfde kleredrag as wat ons gedra het. Ons slavinne was veral netjies en skoon gekleed, omdat hulle meestal in die komhuis moes slaap en in die huis moes dien.
"Oorlede Jan Robbertse en al sy kinders het 'n hele klomp slawe met hulle saamgeneem toe hulle terug is na die Transvaal, en ek glo daar sal vandag nog van die oues wees wat leef. Laat die mense hulle maar gaan vra hoedat hul oubaas hulle behandel het en hoedat die ander Boere hul slawe behandel het. Ek is nie bang vir hul oordeel nie.
"Man die beste bewys dat die ou Boere hul slawe goed behandel het, is dat hul slawe hulle so getrou gebly het. Dink maar aan die ou makvolk wat saam met die Dorslandtrek uit Transvaal is en soveel ontberings saam met hul base deurge-maak het, terwyl hulle tog maklik kon gevlug het as hulle wou. Dink maar aan 'n man soos oom Jannie Robbertse, wat maar baie verkeerd kon wees met mense wat onder hom gewerk het. Op sy slawe was hy streng, maar hy het vir hulle ook so goed gesorg dat baie van hulle gewillig was om hom na 'n vreemde land te volg. Dink maar net wat hy aan sy slaaf Jakob gedoen het toe hy hom vrygemaak het net voordat hy uit Angola is; hy het die jong 'n wa en 'n span osse present gegee! Dink maar aan oom Jannie Labuschagne se slaaf Jims. Toe sy baas hom vrygemaak het, was dit nie lank nie of hy stuur vir hom 'n paar pond present, natuurlik uit dankbaarheid.
"Maar laat ons nader na ons teenswoordige tyd kom. Slawerny is in Angola opgehef kort voor die Eerste Wêreld-oorlog. Al die slawe wat in besit van slawe-eienaars was, moes toe vrygemaak word. Maar wat het gebeur? 'n Menigte van die Boere se slawe het maar by hul base gebly. Nou gaan ek jou 'n paar opnoem van wie ek weet en persoonlik ken, wat in 1928, toe ons mense uit Angola hierheen getrek het, hul base uit eie vrye wil gevolg het en op eie gevaar af, want hulle was belet om oor die Kunene te gaan. Daar is Jonas, die slaaf van ou tant Letta de Klerk (nou Letta Labuschagne), tans woonagtig op die plaas van Rooi-Louw du Plessis, daar naby die polisiekantoor Brits in die distrik Gobabis. 'n Ander een is Juake met sy meid Mieta, wat ná aan die Waterberg woon; hulle was ook slawe wat saam met hul base uit Angola gekom het, maar ek het hul eienaars se name nou vergeet. Op Moravia, die skoolplaas hier oorkant die Omatako-omuramba, is ene Deet. Hy was die slaaf van Sagrys Grobler, en sy meid Doortjie was 'n slavin van oorlede tant Hessie Grobler, oom Hans Grobler se vrou. Sou hulle dit gedoen het as hulle sleg of wreed behandel was? Ek glo van nee!
"Jy moet darem nou nie gaan dink dat al die Portugese hul slawe so wreed en sleg behandel het nie, en dat al die Boere weer hulle s'n so goed behandel het nie. Ek wil slegs sê dat verreweg die meeste Portugese hul slawe sleg behandel het, terwyl die meeste Boere hulle s'n goed behandel het. Daar was liewe Portugese wat hul slawe sekerlik enige tyd net so goed of miskien nog beter behandel het as die Boere; maar ons kan nie op die uitsonderings gaan nie, ons moet die groot meerderheid neem.
"Nee wat, man, jy hoef dit nie te probeer wegsteek dat ons slawe gehad het nie, want dis 'n feit wat voor die hele wêreld bewys kan word.
VI.
"Die prys van 'n slafie in Angola was destyds so te sê niks, miskien 'n paar meter lappe en 'n paar stringe blou krale en 'n paar ringe koper - wat alles tesame omtrent 4s. of 6s. sou kos. Vir ander het ons miskien 'n paar bosse skulpkrale betaal en soms, as jy bevriend was met 'n kaptein, het jy ook een of twee present gekry. Sulke slafies het nooit getjank en geskree as hulle aan ons afgegee word nie, want gewoonlik was dit dan skepseltjies wat reeds tevore gevang was of van wie die kaptein die ouers laat doodmaak het of wat hy self geruil het. Die slafies wat ons op kommando gevang het, het altyd vreeslik gehuil en geskree as ons hulle vang of van die groot volk wegvat. Soms het die moeders ook tekere gegaan, maar nie so erg nie, want jy moet weet slawerny was 'n ding wat toe al by al die swart nasies oor die hele Angola honderde jare bekend was. Die inboorlinge het self onder mekaar met slawe gehandel en self ook slawe aan die Portugese of die Boere verkoop. Baie ryk volk wat nie eers kapteins was nie, het ook slawe gehad wat hulle in hangmatte moes ronddra net waar hulle wou wees.
"O nee, dit was nie net Boere en Portugese wat die laaste blanke slawe-eienaars van ons eeu was nie! Daar was ook Engelse in Angola wat slawe gehad het, soos bv. ou mnr. Chapman; hy het 'n hele trop slawe gehad. Dan was daar nog Black van Chibia, wat ook slawe gehad het. Om jou die eerlike waarheid te sê, glo ek vas dat die Engelse regering in Engeland ook goed geweet het van die slawerny in Angola, omrede daar soveel slawe in die kusdorpe se plantasies gewerk het, en in al die dorpe aan die kus was daar ook Engelse wat net so goed as ek of enige ander man van daardie dinge geweet het en wat seker tog ook met die Engelse konsul in aanraking gekom het.
"Daar was nooit so iets soos 'n inboekstelsel vir slawe in Angola nie. Man, hoe kan hulle nou volk wat met bedrog gevang is, inboek? Ek het self nooit een van my slawe ingeboek nie. As daar so 'n wet was, dan kan ek jou net sê dat niemand in Angola hom ooit daaraan gesteur het nie. Ek kan jou selfs gevalle noem van slafies wat uitgevoer is uit Angola na Transvaal. My eie ou skoonmoeder, tant Daïlina Robbertse, het in die jaar 1900 by die familie in Transvaal gaan kuier en sy het 'n paar slafies van Mossamedes af per skip met haar saamgeneem na Kaapstad en van daar na Nylstroom, Trans-vaal. Een van hulle was 'n kleinmeid wat ek haar present gegee het. Haar naam was Silpa, en miskien leef sy vandag nog. Toe sy haar paspoort uitgeneem het, het tant Daïlina een-voudig gesê sy wil 'n paspoort hê vir haar en haar kinders. Jy sien, dit was vir die Portugese glad nie snaaks as 'n blanke man of vrou met swart kinders om 'n paspoort vra nie. Buiten-dien, al het die amptenare geweet dat die swartetjies nie werklik die kinders van die Boervrou kon wees nie, het hulle ook nie omgegee nie, want hulle het geweet dis haar slafies, en in daardie tyd was 'n slaaf in die oë van die wet totaal niks.
"Ek kan jou nog ander gevalle ook opnoem. Daar was my swaer, Groot-Daan Robbertse, Hans Alberts, Koos van der Merwe, Klein-Daan Robbertse, Louw Snyman en oom Jannie Robbertse wat selfs volwasse slawe wat al self kinders gehad het, met hulle saamgeneem het toe hulle terug is Transvaal toe. Oom Franie Kromarm Robbertse, so genoem omdat hy in 1880-1881 se oorlog op Potchefstroom die eerste 'n koeël van die Engelse deur sy arm gekry het - het in Trans-vaal gewoon en eenmaal in Angola gaan kuier en jag. Onder-wyl hy nog in Angola was, het hy 'n brief gekry dat sy vrou oorlede is. Hy kry toe 'n weduwee in Angola in die oog en besluit toe om hom in die land te vestig. Hy moes egter terug Transvaal toe om sy boedelsake in orde te bring. Toe hy vertrek met die boot het hy ook 'n slafie met hom saamgeneem. Daar was nog meer sulke gevalle; maar ek noem maar net die paar waarvan ek positief seker is, omdat ek ooggetuie was. Wat ek jou nou hier vertel het, is die reine waarheid. Vat my spoor, loop hom na as jy dink ek lieg en jy sal uitvind dat ek jou niks anders as die waarheid vertel het nie."
Die waarde van sulke getuienis soos hierbo aangehaal, is iets wat lig onderskat maar nie maklik oorskat kan word nie, want dit werp meer lig op 'n vraag wat enige ernstige geskiedvorser al dadelik in die oog sal val, nl. waarom het die inboorlinge van Angola, wat grootliks deur die Boere aan Portugese gesag onderwerp is, so 'n groot eerbied en selfs liefde vir hul meesters gehad, terwyl hulle die Portugese so verag en gehaat het dat hulle selfs tot die einde van die afgelope eeu nog die Portugese op verafgeleë voorposte afskuwelik vermoor en selfs lewendig verbrand het sodra hulle die geleentheid daartoe gekry het? Dit is omdat daardie ongeletterde, konserwatiewe ou Boere-baanbrekers dit so meestrlik verstaan het om die naturelle-rasse op 'n menslike wyse baas te raak!
Bron: VELDSMANNE, Hoofstuk 9, deur Johannes von Moltke - 1958 - Afrikaanse Pers. Ingestuur deur Leon von Moltke, sy kleinseun.
- Hits: 20004